Afrika Afrikaans

Grondpad

September 8, 2017

Dit is vandag ’n maand later.

’n Maand na Isabel.

’n Maand alleen.

En terwyl ek aan ’n storie werk oor Transformation Vrededorp vir LiG Tydskrif dwaal my gedagtes terug na hom toe.

Sommer so vanself.

Grondpad langs.

Die klein, vuil seuntje in Botswana.

Meer as tien jaar gelede.


Hy het saam met die ouer seuntjies in die stof gespeel.

Sy vel gekreukel onder die droog en vuil.

Maar tevrede.

So in die stof.

Ek het hom aan die hand geneem.

Op die tafel getel.

Sy voete in die wasbak, vol louwarm water gesit.

Hy’t sonder skroom of vrees my toegelaat om sy voete te was.

Sy klein, harde voetjies.

Gewoond aan grondpad loop.

Ek het saggies sy gesiggie afgevee met die waslap.

Sy voetjies afgedroog.

Room ingesmeer.

En saggies met hom gesels.

Sonder dat hy kon verstaan.

Ek het hom afgetel.

Hy het ’n rukkie woordeloos bly staan.

Kaalvoet weggestap.

Grondpad langs.

Agter sy maatjies aan.


En ek wonder of my hart toe al geweet het.

Begrip gehad het vir klein voetjies.

Vuil gesiggies.

En die tydelikheid van kind-wees.

Die tydelikheid van ma-wees.

’n Oomblik se voetewas.

Se room insmeer.

Se saggies praat.

Om hulle weer op hulle pad te sien.

Al dan nie.


My hart het grondpad langs saam met hom gestap.

En hy het huppelend in die stowwerige sonsondergang verdwyn.


Vandag is hy sekerlik al ’n tienerseun.

Sterk en selfversekerd.

En op dae soos vandag dink ek terug aan sy klein, vuil voetjies.

Olifant-velletjie.

Tevrede huppelstap.

Stof tot stof.

Die stukkie ma-wees vir ’n ander vrou se kind.

Afrika-sonsondergange.

En die onthou wat soms grondpad stap.

Onverwags.

Sommer so vanself.

Kaalvoet.

You Might Also Like

No Comments

Leave a Reply