Afrika Afrikaans Aktueel Suid-Afrika Verlies

Keerpunt

November 13, 2017

Ons klim diep af in haar donker buik.

Sy sluk ons honger en koud in.

Gulsig.

En met elke trappie dieper na onder…

Af in die donker…

Trek my bors toe.


Ek kan skaars om my sien.

Buite die grot se opening skreeu die sonbesies oorverdowend.

Die hitte verdoof vinnig wanneer ons in die eerste opening te staan kom.

My oë neem ’n rukkie om in die donker aan te pas.

Die gids praat oor die geskedenis van dié grot.

Die uitgrawings, ontdekkings.

Rotstipes.

Kort-kort maak ek en my vriendin oogkontak.

Sy om seker te maak dat ek nog gematig asemhaal.

Ek om seker te maak ek is nie alleen in hierdie donker nie.

Net die gids se flitsliggie skyn dof teen die koue rotse.


Ons neem nog trappies na onder.

En ek wonder of ek nie dalk moet omdraai nie…

Vinnig verby die ander toeriste moet skuur.

Of ek nie moet terugdraai na die lig toe nie.

Met die trappies moet opklim tot by die grotopening nie.

Ek weet aan die anderkant van hierdie duisternis is daar weer lig.

Weer lug.

Ek weet.

Maar ek wil omdraai.

En vir ’n oomblik oorweeg ek dit ernstig.

“Ek gaan terugdraai” sê ek vir my vriendin.

Ek voel soos ’n papbroek.

Die kinders by ons klim die trappies lag-lag uit.

Sonder enige vrees.

Die babatjie tevrede stil by sy ma.

“Goed, dan draai ek saam met jou terug” sê sy.

Ek besluit teen dit.

Veg teen elke instink wat vir my sê: “Hier moet jy uit!”


Soos ons dieper klim en my onfikse bene wankelrig onder my begin bewe, oorweeg ek verskeie scenarios.
Rotsstortings.

Gestel ek gly en val.

Breek ’n been en iemand moet my swaar, hygende lyf hier uitdra.

Maar die grootste van al my vrese is die onheilspellende donker.

Die stilte.

Die noutes wat my vasdruk.

Swaar op my bors kom sit en sê:

“Jy is klein en nietig in my donker greep.

“Vanuit my duisternis sal jy nooit ontsnap nie.

“Soos jou skadu sal ek jou bybly.

“En ek gaan jou neerdruk.

“Vasdruk.

“Swaar op jou gewete…

“Jou onderbewuste…

“Jou middernagte…

“Bly druk.

“Jou altyd bybly.

“Ek is jou stille, donker, medereisiger.

“En jy kan aanhou om vir my name te gee…

“Om my te probeer definieer:

“Verlies.

“Verwerping.

“Vrees.

“Depressie.

“Maar hier staan jy weer.

“Vasgevang in my koue rotsagtige greep.

“Diep in die donker…”


Ons kom tot stilstand langs ’n groot poel water.

Die gids vertel ’n bloedstollende verhaal van ’n Wits-student wat ter wille van navorsing in die 80’s hier kom duik het.

Eers 6 weke later weer gevind is.

En in die rots het hy sy laaste woorde uitgekrap.

Sy liefde vir sy ma verklaar.

“Wat sou ek in die rots krampagtig uitkrap in my laaste donker en koue ure?” wonder ek steeds vreesbevange.

“Hierdie is die diepste punt van die grot,” verduidelik die gids.

Die beklemming om my hart verslap.

‘Keerpunt’ sug my hart.

“Van nou af klim ons weer terug na die oppervlak.

“Van hier af gaan ons deur die noutes moet kruip.

“Ons gaan laag moet afbuk om tot bo te klim” waarsku die gids.

Ek klouter agter my vriendin – wat heel voor deur die noutes kruip – vinnig en angstig aan.

Ek kan voel hoe die koue om my dunner word.

Ek kan weer die sonbesies hoor.

Ek klim en ek klim.

My bene steeds bewend.

Na bo.

Na bo.


Buite in die warm sonlig sê ek vir my vriendin:

“Ek wens daar was ’n gids wat in ons donkerste tye vir ons kon sê ‘hierdie is die diepste punt van jou hartseer. Van jou donker. Van nou af klim ons op na bo.'”

Terug by die huis storm die honde vrolik op my af.

(Ongeskik, eintlik.)

En soos die ketel kook, besef ek:

Nooit sal ek die diepste punt van my hartseer kan bereik nie.

Want my donker is reeds oorwin.

Jesus het afgeklim tot in die diepste duisternis om my dáárdie seer, dáárdie alleenheid te spaar.

My vry te spreek van die donker se koue kloue.

En aan Sy kruis vasgespyker is daar ook:

Verlies.

Verwerping.

Vrees.

Depressie.

En elke donker, dreigende medereisiger.

Nou bly daar nog net skadus van haar oor.

Skadus van seer.

En moet ek soms nog laag afbuk om deur die noutes te klim.

Ja, soms op my kniee.

Op na bo.

Na bo.

Want buite skyn die son.

En skree die sonbesies.

 

You Might Also Like

1 Comment

  • Reply Erna November 14, 2017 at 7:31 am

    Soos altyd… ‘n stuk wat ek oor en oor wil lees. Dankie dat jy jou besonderse gawe met ons deel. x

  • Leave a Reply