Godsdiens

Salfwoorde

November 24, 2017

Kom ons wees maar eerlik.

Kom ons wees maar baie eerlik.

2017 was ’n seer jaar.

Vir baie.

Maar ook vir my.

En my hart hang moedeloos slap.

Verlep soos die droeë plante in my tuin.

’n Woestyn.

Agter slot en grendel het ek myself toegesluit.

In ’n leë babakamer.

Met ’n leë kot.

En leë kaste.

En gehoop om myself te beskerm teen die goed-bedoelde seerwoorde van mense wat my probeer troos.


Maar die seer dring deur.

Want die klein skermpie wat netjies in my palm pas herinner my aan my verlies.

Daagliks.

Elke nuwe aankondiging.

Elke nuwe foto.

Elke mylpaal wat vriendinne vol vreugde deel.

Alles herinner my aan my eie verlies.

En verbitterd verstyf die dorings om my nerfaf-hart.

My familie probeer skerm as ek in woede en frustrasie probeer sin vind:

“Onthou net, hulle sal nie verstaan hoe dit vir jou voel nie… jy moet hulle nie kwalik neem nie…”

Maar ek het nie die kapasiteit om te vergewe nie.

Nog die onreg.

Nog die seerwoorde.

Nog my eie liggaam wat my in die steek gelaat het nie.

Nog ander wat het waarvoor ek so lank bid nie.

Ek wil skree.

En skop.

En iemand kwalik neem.

Iemand kwalik neem.

En die spanning van ’n deurbraak…

van een oggend opstaan om te vind dat die woede gelig het…

Die humiditeit van hierdie vreeslike seer druk my teen die grond vas.


En net soos die son voor die wolke inskuif en die belofte van reën dawerend teen die hemele beur…

waai ’n droeë woestynwind…

en skeur ’n verblindende son deur die beloftewolke.


Ek vermoed dat die Klaagliedere-skrywer ook só gevoel het.

“Ek word bitter wanneer ek aan my pyn en hartseer dink. My hart krimp inmekaar wanneer ek so oor alles dink.

“Maar daar is een ding wat my weer hoop laat kry: die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou.’n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar.” (Klaagliedere 3:19 Die Boodskap)

Elke oggend is U maar weer daar.

Selfs in hierdie sieklike seer.

Selfs al wil ek weghardloop.

Losruk.

Dalk het ek myself vir so lank weggesluit teen die seerwoorde.

Dat selfs die salfwoorde nie kon deurdring nie.

Dan lees ek Hosea 14:5

“Die Here sê: “Ek sal die siekte wat jy gehad het, gesond maak. Ek sal genesing bring. Jy sal nie weer wegloop van My af nie. Ek sal jou vreeslik liefhê.”


Dalk het jy ook seer.

’n Ander seer wat dreig om jou te versmoor.

Dalk sluit jy jouself weg teen die seerwoorde van mense wat jou omstandighede nie kan verstaan nie.

Verstyf die dorings ook om jou woestyn-hart?

Onthou:

Die Een met die doringkroon sê:

Ek sal jou vreeslik liefhê.

Ek sal genesing bring.

Jy sal nie weer wegloop van My af nie.


En dan kom die reën.

Kreun en blits dit gewelddadig donker teen die hemele.

Saggies.

En dan in strome.

Was my wonde weer skoon.

En die volgende oggend is U maar weer daar.

You Might Also Like

1 Comment

  • Reply Lourika Weideman November 24, 2017 at 5:34 pm

    Hi Judith
    Ek lees al n rukkie die stukke wat jy skryf en oor jou hartseer verlies . Ek wil vir jou sê ek verstaan hoe jy voel en elke emosie waardeur jy gaan. Dit was ook my porsie wat ek gedeel was . Ek wil ook vir jou sê , na die kwaad en bitter en toesluit en aflsuit – kom die die beter word en salf . Hou moed xx As ek jou vir koffie kan vat laat weet . Liefde Lourika

  • Leave a Reply