Afrikaans Aktueel Godsdiens Sielskos

Dapper

January 17, 2018

“Dít kan nie my storie wees nie… ” dink ek terwyl ek my neus histeries in die badkamer by die werk blaas.

Die trane kom maklik.

Asof hulle die pad ken…

van teleurstelling…

van hartgebrokenheid…

Ek bid:

“Regtig, Here? Dít ook nóg? Ek dog my lesse is nou geleer. Ek dog my swaarkry-koppie is vir eers vol. Ek dog 2018 beteken ’n nuwe begin… ”

Die deur kraak en iemand kom in die badkamer in.

Vir eers sluk ek my trane.


En toe die eerste reël van hierdie artikel by my opkom terwyl ek in die spieël kyk dink ek:

“Nee, regtig, niemand gaan my blog meer lees as ek net heeltyd oor die hartseer en die lelik van die lewe skryf nie…”

En daarom gaan ek nie.

Maar moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie…

Hierdie is nie ’n oorwinnigsverhaal nie.

Geensins nie.

Maar ek maak soos my ma my geleer het:

Ek droog my trane af.

Vee die maskara weg.

Was my hande.

En sit lipstiffie aan.

Ek kyk vir ’n laaste keer in die spieël.

“Onthou… ” sê ’n Fluisterstem.

“Jou verliese is nie wie jy is nie.”

“Jou werk is nie jou identiteit nie.”

“Hiérdie vernedering definieer jou nie.”

Ek knik vir my refleksie.

“Goed dan, kom ek probeer weer.”


Oor die salige Desember-vakansie dink ek lank na oor wat ek in 2018 wil vermag.

Ek dink lank na oor hoe ek in 2017 tekort geskiet het.

Vir welke rede ookal.

Baie van die gelowige vroue wat ek op Instagram volg kies ’n woord vir hul jaar.

Ek top lank oor my woord.

En dink dan terug aan ’n gesprek tussen my en ’n vriendin.

“Ek dink jy is baie dapper…” het sy gesê in Mugg & Bean een middag.

Ek het myself nog nooit as dapper geag nie.

Daarom besluit ek op: Dapper.

In 2018 wil ek graag dapper wees.


Ek is onseker oor hoe dapperheid nou eintlik lyk.

Beteken dapperheid, vreesloosheid?

Ek glo nie.

Ek glo ook nie dat dapperheid slaan-op-my-bors-en-skree-my-kreed is nie.

Ek vermoed dat dapperheid suutjies is.

Sluip.

Soms stilraak.

En soms weergalm.

Weerklink.

En dalk lyk dapperheid bietjie soos lipstiffie aansit en weer probeer.

Dalk lyk dapperheid soos uit-jou-hart-uit praat…

Veral wanneer dit makliker is om stil te bly.

Dalk lyk dapperheid baie soos vernedering.

Of mislukking.

Dalk het dapperheid deel aan harde lesse leer.

Miskien kan dit dapper geag word om mense lief te hê al is hulle selfsugtig, onsensitief en onregverdig.

Ek weet nie, maar dalk is dit dapper om mense te vergewe en hulle wéér te vertrou.

Om positief te wees en opgewonde te raak oor geleenthede wat totaal en al flop.

Om té hoog te reik.

Té hard te probeer.

Baie hard te val.

En weer op te staan.

Om jou hart te laat breek.

Oor en oor.

Totdat die wrywing al jou hart se ruwe punte sag skuur.

Jou lewe só vorm en vou…

Dat net die mooi kan agterbly.

En jy breekbaar, soos die fynste porselein die lig deur jou laat spoel.

Onskatbaar in waarde.

Uniek gevorm, gevou, gebreek en genees.

Dalk is dít dapper.

En dalk is dit dapper om te smeek.

Te baklei.

Te gló.

Te hoop.

Vertrou.

En wag.

En wag.

Ja, ek dink dapperheid is ’n Fluisterstem.

Dapperheid is Hoop in hopelose omstandighede.

Dapperheid is Liefde in ’n liefdelose wêreld.

En dapperheid is om te glo dat die beste nog voorlê.


Nee, dít is nie my storie nie…

En dalk begin my oorwinningsverhaal met ’n woord.

’n Fluisterstem wat sê:

“Jy is dapper…”

So, 2018, kom ons probeer weer.

 

 

 

You Might Also Like

1 Comment

  • Reply Leandi January 19, 2018 at 8:45 am

    Pragtig, soos altyd!

  • Leave a Reply