Afrikaans Godsdiens Sielskos

Propvol

February 19, 2019

Ek het ’n jaar gelede geskryf.

Vir myself geskryf.

Oor wat in my hart en my gedagtes sit.

En dit was ’n vreemde vol jaar.

’n Jaar vol van haar.

Ek het krampagtig aan haar teenwoordigheid vasgeklou.

En ek was bang.

Elke dag.

Soms kon ek vergeet van die bang en opgewonde raak.

En droom.

Oor haar.

En soms was die bang so groot.

’n Donker skaduwee wat my dopgehou het.

Wat in pas met my gestap het deur ’n jaar van bang.

’n Jaar van hoop.

En glo.

En twyfel.

En skielik is dit ’n jaar later.

Is die bang minder.

En is sy meer.

Want in ’n paar sentimeter lê sy my hele lewe vol.

Is ek propvol.

Van haar.

(En daarom kon ek nie skryf nie.)


Want my dink is vol van haar.

Is sy tevrede.

Het sy seer.

Kry sy warm.

Kry sy koud.

Is sy honger.

Is sy moeg.

My ore is vol van haar.

Haar lag.

Haar huil.

Haar blaas- en suig geluidjies.

My lyf is vol van haar.

My hart is vol van haar.

En daar was nie ’n oomblik die afgelope jaar sonder haar nie.

En daarvoor is ek so dankbaar.

So oorweldig.

Deur haar weerloosheid.

Deur haar dapperheid.

En is sy sterk …

So sterk.

En nou verstaan ek.

Waarom Jesus juis beelde van vroue en vroulikheid gebruik het wanneer Hy ’n punt wou maak.

Waarom vroue by Sy kruisiging was toe Sy dissipels weggeskram het.

Waarom Hy Homself openbaar het aan ’n vrou na Sy opstanding.

Waarom Hy uit ’n vrou gebore is.


Want vroue het die vermoeë om ’n ander saam met hulle te dra.

Om vol te word van ’n ander.

Leeg vir haarself.

Vroue het die vermoeë om saam met die bang ’n pad te stap.

In pas.

Omdat sy weet haar Verlosser is groter as die bang.

Sterker as die dood.

En wanneer sy haar leeg tap.

Om ’n ander vol te maak.

Sy haarself sal vind.

Vriendin.

Vrou.

Suster.

Ma.

Propvol van diegene wat sy saamdra.

Propvol van ’n oorwinnaarskennis:

Die bang is maar net ’n skaduwee.

En volgende jaar kyk jy terug op ’n vreemde vol jaar en jy besef:

Skadu’s val juis daar waar die Lig skyn.

 

You Might Also Like

No Comments

Leave a Reply